Hemel Vader, sonder groot woorde kom ons na U toe omdat U ons Vader is en omdat U ons benoudhede en vrese en ja, ook ons behoeftes ken. Baie dankie dat ons weet dat U in beheer is!
Baie dankie vir die vordering wat klein Ollie toon. Dit is alleen genade en ons gee U al die eer daarvoor. Dankie vir die wysheid wat U aan die dokters gee wat hom behandel. Dankie vir elke ander persoon wat by hom gemoeid is, medies gesproke. Ons weet dat U hulle almal toegerus het vir hierdie taak. Ons vra in nederigheid dat U hulle die wysheid, liefde en toegewydheid sal gee wat nodig is om vir Ollie te behandel terwyl hy nog in die hospitaal is.
Here, baie dankie vir Henry en Annett se toegewydheid aan hul seuntjie. Ons bid dat U hulle stewig in U hande sal hou en dat U vir hulle weer sal optel uit hierdie moeilike tyd. Seën hulle, Here, en hou hulle sterk. Wees ook asb met hul ander seuntjie wat seker nie mooi verstaan wat aangaan nie. Dankie vir diegene wat na hom omsien.
En nou, Here, wil ons maar net weer vir klein Oliver en sy gesin aan U opdra. Hou hulle naby U hart, Here. Plaas U hand van genesing oor Ollie en gee dat hy spoedig sal herstel sodat hy huistoe kan gaan om daar verder 'n getuie te kan wees van U grootheid en liefde. Rus ook asb vir Henry en Annett toe om hom daar te versorg soos wat nodig is. Dankie vir die voorreg wat ons het om deel te kan wees van hulle lewens deur vir hulle te bid. Ons sal op ons knieë bly!
Dankie, Here Jesus, dat ons hierdie versoeke aan U, ons Vader, kan rig.
In U Naam bid ons dit. Amen.
Baie liefde en sterkte, Jan en Niesje Tromp
No comments:
Post a Comment